Loading…

Thomas A Buys

IT Guy | Music/Movie/Book Junkie | Freelance Photographer | Fitness freak | Wannabee traveler
Start exploring

Family

My dad – Tom Buys

My dad died in 1974 when I was 12 years old and as such, I can not remember a lot about him.

I can, however, recall that he was a very hard worker: both at work and at home. He was competitive and ambitious; a high achiever and he only accepted the best for himself and his family. A perfectionist in everything that he did.

Although he worked extremely hard, there was always time for family. To him, family always came first. I can remember long vacations, social outings, family get-togethers. He was also an animal person and I was always surrounded by animals, growing up.

A keen lover of music and reading, with an extensive general knowledge. Also a real petrol-head – enjoying fast cars!

He looked after his physical wellbeing and was an accomplished karate-ka and bodybuilder.

Looking back I can identify a lot of his character traits in myself and I am really thankful for the short time we had together.

Below are a few articles compiled and published by his brother, Willie Buys.  Also, a short article that was written by himself.


Die lewe en tye van ’n vroeggestorwe joernalistieke uitskieter

WILLIE BUYS skryf oor sy broer, Tom, wat in 1974 aan ‘n uiters rare siekte dood is. Hulle was toe altwee nuusredakteurs – Tom van Die Vaderland en Willie van Die Transvaler.

“♪ For everything there is a season, a time to be born, a time to die… ♪”

Elke keer as ek die popliedjie deur The Byrds hoor wat in die jare sestig ‘n wegholverkoper was, is dit asof my hele gedagtewêreld gevul word deur die beeld van Thomas Alexander Buys wat so tragies van ons as uitgebreide Buys-gesin op die bloedjong ouderdom van 36 jaar weggeneem is. Hoe lui die ander gesegde nou weer (wat ook hier van toepassing is? : “Only the good die young.“)

Vergewe my Engels, maar ongelukkig leen ons relatief jong Afrikaanse taal in sekere omstandighede hom nie tot sulke trefseker frases om sekere dinge en gebeure te beskryf nie. En noem my maar lui, as jy wil, maar hoofsaak is: dit verwoord die beste hoe ek voel oor my oorlede broer, Tom. Hy was ook ‘n geliefde en gewilde Perskoriaan wat in die fleur van sy lewe deur ‘n vreemde siekte uit ons lewens geskeur is – voordat hy sy inherente potensiaal om groot hoogtes in sy loopbaan as joernalis/skrywer kon verwesentlik.

Ek wil my amper verbeel dat die Byrds se weergawe van “Turn! Turn! Turn!” gegrond was op ‘n Bybelstrofe wat ook as teksvers vir Tom se begrafnisbrief gekies is. (Die liriek van die lied is byna woordeliks uit Prediker 3 in die “King James Version” van die Bybel geneem. – Red.)

Die siekte? Daardie tyd was dit nog ‘n baie rare siekte wat slegs sowat vyf persent van die wêreldbevolking per annum geëis het. In leketaal het dit behels dat ‘n onbekende iets die suurstoftoevloei na sy brein vernietig het. Dit het onder meer daartoe gelei dat sy brein soveel uitgeswel het dat dit soos ‘n styfpassende ballon vasgekerker was in sy skedel. Die volgende skakel in dié pynketting was ‘n aftakelende, energiestropende moegheid, gepaard met verblindende hoofpyne wat so heftig was dat hy naar geword het daarvan. Later het die opvolgende braking so fel in intensiteit geword dat van die are in sy oë gebars het as gevolg die drukking op die brein en die druk weens die omgekeerde peristaltiese bewegings van die vomering.

Die kumulatiewe gevolge van dié jarelange aftakeling het daartoe gelei dat hy feitlik ‘n wandelende geraamte geword het, uitgeteer tot ‘n skelet wat ook geestelik geteister is deur die onbegrip van wat besig was om met hom te gebeur. In so ‘n mate dat hy op ‘n laagtepunt smekend aan ons moeder gevra het: “”Hoekom ek? Wat het ek gedoen om dit verdien?” Soos sy toestand versleg het, het hy gehallusineer en tussen bewustelikheid en onrealiteit gefluktueer.

So het die pasiënt met wie hy die kamer gedeel het, met ‘n meewarige, simpatieke glimlag aan ons vertel hoe bedrywig Tom deur die nag was, dat hy fiktiewe onderhoude met mense gevoer het en dan weer hardop geworstel het met die hoe en die waar van dit alles. Hy (Tom) het naderhand ook hardop gewonder of hy nie besig was om kranksinnig te raak nie.

Die verpleegpersoneel moes hom later vasbind aan sy bed se reëlings want hy wou met alle geweld wegvlug van die raaisel van sy toestand. Die vasbindery was tegelyk voorkomend, maar ook teenproduktief want dit het sy angsaanvalle laat verdiep. So erg dat hy my per geleentheid gesmeek het om hom tog net los te maak! Hoe hanteer jy dit?

Vir my was dit alles een van die grootste traumas van my lewe toe hy al rukkend en bewend in ‘n diep koma gegaan en vanuit daardie stikdonkerte onbewustelik uit hierdie geteisterde lewe gegly het. Hierdie is my perspektief, geskryf uit die oogpunt van een van vyf broers wat na Tom opgesien het as vaderfiguur, voorloper, mentor, saambindende figuur en (ongewilde?) uitvoerder van dissiplinêre stappe as die woelige energie van vier jonger sibbe buite die perke van ordelikheid beweeg het.

Sy gesin? Kom ons begin by sy vrou, Annemien, met wie hy sedert skooltyd ‘n innige verhouding gehad het. Sy was verpletter deur sy dood en het nooit weer getrou nie. Aan my het sy gesê sy het haar eenkeer-in-‘n-leeftyd-lewensmaat gehad. Sy was tevrede om met Tom se nalatenskap te bly leef en hul drie kinders na die beste van haar vermoë na volwassenheid te begelei. Een van Tom se mantras wat sy altyd aan die kinders voorgehou, veral as dit swaar gegaan het, was: Die Here sal sorg. Tom was diep gelowig en daardie eienskap het Annemien van kindsbeen af diep in die jong kinders se gemoedere geanker.

Van die top-breinspesialiste in die land het tot die uiterste geveg om Tom se lewe te red binne die grense van die beperkte kennis wat daar detyds oor sy toestand bestaan het. Wat vir ons as familie tot vandag toe nog onverklaarbaar bly, is die besluit om hom in ‘n inrigting te laat opneem waar hy met elektriese skokke gebombardeer is. Vergeefs, want dit het sy hallusinasies net laat vererger en hy het soms soos ‘n prewelende gees deur die donker gange van sy huis geloop op soek na verlossing.

Só groot was die desperaatheid egter dat daar oorgegaan is na die toepassing van skaars bewese tegnieke op hom – natuurlik ter wille van die voortdurende mediese navorsing ook. Soos Tom se toestand versleg het, het sy brein die vermoë verloor om die opbouende vog tussen sy breinvlies en brein weg te pomp – wat natuurlik die drukking om en op die brein tot kritieke afmetings vermeerder het.

‘n Meganiese instrument wat soos ‘n pompie werk, is aan die kant van sy brein aangebring. Daaraan verbind was ‘n geleidingspypie wat deur sy hart na sy maag geloop het. Die bedoeling was dat die opbouende vog deur die pypie via die hart na die maag weggelei sou word, waar die normale liggaamsfunksies sou oorneem om te sorg dat die vloeistof weggewerk sou word.

Tom was teen dié tyd egter so verswak en afgetakel dat daar slegs ‘n ylende, rukkende skelet op die sterwensbed gelê het wat geen weerstand meer teen die dood kon bied nie. In 1974 is hy van sy lyding verlos. Daarna het ‘n reuse-begrafnis gevolg met ‘n stoet motors wat kilometers ver gestrek het. Die room van Perskor se joernaliste en ook ander hoogwaardigheidsbekleërs van die maatskappy was onder die honderde roubeklaers.

Hierdie beskrywing van my is in leketaal, soos ek dit destyds verstaan het, en sal geensins die toets van die mediese wetenskap kan slaag nie.


Die afgestorwenes kry altyd eer, maar Tom Buys het syne verdien!

WILLIE BUYS skryf: Oorlede Thomas Alexander Buys was ‘n gewilde joernalis en mens onder sy eertydse kollegas. Dit was destyds ‘n groot tragedie dat hy aan die lewe ontruk is terwyl hy soveel potensiaal op joernalistieke gebied, skryfwerk en uitstekende personeelhantering as nuusredakteur van die destydse Die Vaderland gehad het wat nog by verre nie ten volle ontplooi was nie.

Tom het sy loopbaan as joernalis by Die Tranvaler begin toe dit nog aan Voortrekkerpers behoort het. Hyhet daar sommer gou-gou naam gemaak met sy puik nuusaanvoeling en hardwerkendheid. Een van die groot stories waarmee hy sy reputasie as gedugte joernalis op ‘n baie jong ouderdom gevestig het, was een van die grootste mynrampe in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, die Clydesdale-mynramp by Coalbrook aan die Vrystaatkant van Sasolburg.

Tom het Die Transvaler velaat voordat dit by Afrikaanse Pers ingelyf is. Hy het by die koerant Dagbreek en Sondagnuus aangesluit, waar hy as hoofsubredakteur by Jan Syfert oorgeneem nadat dié ‘n pos by die SAUK aanvaar het. Tom het later die hoofsub-redakteur van Die Vaderland geword voordat hy gevorder het tot nuusredakteur waar hy steeds met groot deernis en aangename herinneringe onthou word.

So vertel die latere nuusredakteur van Die Vaderland en mederedakteur van K’rant, Japie Bosch, dat Tom vir hom ‘n mentor was. Hy skryf na aanleiding van beplannings-kommunikasie tussen ons oor inhoud vir K’rant: “Willie Buys skryf hy het self wenke opgetel uit stories. Nou weet ek Willie sal nie so in ‘n koerant skryf nie, maar eendag het ék. Jaap de Villiers oud-bokspromotor, miljoenêr-sakeman en politikus, kan probleme by die stadsraad optel, onthou ek daai sin. Toe sak ‘n sub op my neer. Hy het my by my lessenaar kom haal. Langs hom laat staan. “En jy noem jouself ‘n Afrikaanse onderwyser! Nou wil jy by ‘n koerant werk. En jy skryf so!” Hy verduidelik toe dat mense papiere optel, maar nie probleme nie. En sommer ‘n paar ander lessies ook. Ek wou my baadjie vat en loop, so onnosel het ek gevoel. Van daai dag het ek geweet: Wees versigtig. Daai sub se naam was Tom Buys.”

Nog iemand wat haar deernisvolle bydrae tot die nagedagtenis van Tom ter vertroosting na die begrafnis met ons kom deel het, was die befaamde Bienkie Wessels. Sy, haar man Frans, ook ‘n hoëkop destyds in Perskor, en Tom was goed bevriend. So ook wyle Frans du Toit, Tom se voorganger as nuusredakteur by Die Vaderland.

Vergeet ook nie van wyle Dirk Richard, toe redakeur van Dagbreek en later van Die Vaderland. Tom was ook ‘n man se man en het agting afgedwing by al die pers se legendes soos Chris Vermaak, wat later by Johan Vosloo oorgeneem as nuusredakteur van Dagbreek toe dié tragies dood is in ’n motorongeluk. Chris, oftewel ou “Grim” na aanleiding van sy gunstelingwoord om situasies te beskryf en te beklemtoon, was natuurlik ook baie bekend as skrywer van boeke oor veral terrorisme. Hy was ook ‘n uitnemende misdaadverslaggewer in sy tyd.

Terug na Bienkie. Dié wat haar geken het, het geweet van haar slag met die geskrewe woord. Sy was saam met ander van haar geslag vrouebaanbrekers in die joernalistiek, soos bv die veelgeprese Rykie van Reenen. Bienkie het waarderend en vertroostend vertel van die spesiale band tussen haar en Tom toe hulle nog saam by Die Vaderland se redaksie gewerk het. Ná uitmergelende werksessies het Tom gewoonlik ná Die Vaderland gesak het, by haar lessenaar kom staan en dan geklop-klop aan haar lessenaarlaai. Hy het geweet sy bêre ‘n soetdingetjie daar. Die klop was hul morsekodetaal en sy het woordeloos ‘n lekkertjie uitgehaal en aan hom oorhandig.

Praat van lekkers. Wyle Kittie Vermaak, onder meer vroueredakteur van Die Vaderland, was nogal trots op die troetelnaampie wat Tom vir haar gehad het: Kit Kat, het hy haar genoem. Dié naam het hy geleen by die baie gewilde sjokolade. (Hoop sy en Tom deel nou ‘n Kit Kat waar hulle ookal is.)

Tom was ‘n man met groot skryftalent. Selfs al op skool het hy akkolades ingeoes vir die Afrikaanse opstelle wat hy geskryf het. Later, terwyl hy as joernalis gepraktiseer het, het hy boeke vir die Uitgewery vertaal. Hy het ook saam met die kranige fototgraaf Nic van der Linde fotoverhale geproduseer wat ook in Dagbreek en Sondagnuus gebruik is.

• Dus neem ek die vrymoedigheid om ook te vertel dat hy onwrikbaar in dissipline geglo het om ordelikheid en balans in sy lewe en loopbaan te handhaaf. Ek het reeds genoem dat hy ‘n soort vaderfiguur was vir ons ander Buysbroers. Dit het ook die dissiplinêre aspek ingesluit.

Ek vertel ‘n staaltjie uit ons familiegeskiedenis waaroor ons later kon lag, maar NIE toe dit plaasgevind het nie. Tom het in higiëne geglo en dit het gereeld tot inspeksies van die slapende Buys-telge gelei. Ek skryf doelbewus slapende want Tom het in daardie stadium laatskof by Die Transvaler gewerk. Dit het beteken dat hy eers so teen twee-drie uur tuisgekom het.

Die spesifieke gebeurtenis het in die middel van die snerpend koue hoëveldse winter plaasgevind. Tom het die komberse van ons lotjie afgepluk en Lifebuoy-skone snorkendes aangetref. Maar helaas, die Lifebuoy-seep kon nie die krake van ons gebarste voete weens skoenlooslopery reinig nie. En daar beland ons een na die ander in ‘n bad gevul met water, seep en die gesin se wasgoed wat gelê en week het vir die volgende dag se was.

Moenie vir my vra wat verder gebeur het nie, maar ons is uiteindelik al brommende en kermende spik-spikkelskoon terug in die bed. Nie almal het dit gelate aanvaar nie, maar Tom het vasgeskop. Vuil uile deel nie ‘n kamer met hom nie!

Dankie, Tom, vir die dissiplinêre grondslag wat jy ons gelê het! (Nou nie dissiplinêr soos in militêr nie, maar ek glo vas dissipline is een van die hoekstene van ‘n mens se integriteit en karakter.)


Die hele Buys-gespuys (5) in een stadium almal by Perskor – ‘n rekord?
WILLIE BUYS skryf:
  • Eers was daar een, die voorloper, Thomas (Tom) Alexander Buys.
  • Toe twee: Johannes (Jan) Cornelius Buys.
  • Toe drie, Willem (Willie) Wouter Buys.
  • Toe word dit ‘n viermanskap met die toetrede van André Buys en laastens het die destydse laatlammetjie Abram (Braam) Buys se aansluiting die gebroeders Buys se familiekring by Perskor voltooi.

Almal was op verskillende stadiums in verskillende hoedanighede werksaam by Voortrekker Pers, Afrikaanse Pers Bpk en uiteindelik Perskor. As dit nie ‘n rekord is nie – vyf mense van een gesin wat by dieselfde plek gewerk het nie – moet dit baie na daaraan wees. Voorloper Tom het die ding begin deur ‘n pos as joernalis by die destydse Die Transvaler, toe nog in die Voortrekker Pers-stal, los te slaan. Broer Willie het hom later, ook as joernalis by DT, aangesluit nadat Tom na Afrikaanse Pers in Aucklandpark verkas het.

Nadat broer Willie sy leerlingskap by DT voltooi het, het hy mentor, voog en beskermheer Tom na die Sondagkoerant Dagbreek gevolg. Tom was toe subredakteur en Willie verslaggewer. Hulle is summier deur wyle Mike van Niekerk gedoop as Buys snr. (Tom) en proefbuys, Willie. Buks Pietersen het daai Buys-van later verletterlik in Engels (tube) en Willie van toe af Tjoepie genoem.

Wonderlike tye daar beleef saam met Afrikaanse joernalistieke legendes soos Dirk Richard (redakteur) die nuusredakteur Apie Greeff en die vermaarde Chris Vermaak (ook bekend as ou Grim) wat Oom Apie later as nuusredakteur opgevolg het.

Voorts was daar manne wat diep spore in die joernalistiek getrap het soos spotprentsatirikus cum kunstenaar Len Lindeque, Mike Meiring (Chris se asssistent) en die deurwinterde Douglas Jones, almal nou saliger. Om hierdie “rogues gallery” bietjie afwisseling en opkikkering te gee was daar Dagbreek se eie prikkelpoppie (maar baie bekwame joernalis) Lucia Gomes, wat die manne se hormone op hol gehad het met haar bonsende wipstappie.

Voor ek terugkeer na die eintlike storie oor hoe Buys, Buys, Buys en Genote Perskor amper as ‘n gesinsonderneming bedryf het, net eers ‘n kostelike Lindeque-staaltjie. In daardie tyd was hierdie skrywer ‘n jongman wat sy hubare status vir huweliksboeie verruil het. Die redaksie het benewens ‘n “afskeidspaartie” vir Willie ‘n ander verrassing gehad.

Dit was naamlik ‘n lewensgetroue skets deur Len van ‘n onontbeerlike liggaamsdeel vir onder meer die (oordadige?) gebruik veral op die huweliksnag, sierlik gedrapeer om ‘n vasgeplakte potlood met min of meer dié woorde: Gebruik dié as hulp as jou petrol opraak! (Toe was daar nog nie Viagra nie) Dit is toe deur Tom in die oornagtas van die bruidegom geplaas waar hy dit gelukkig betyds ontdek het om erge verleentheid te kon voorkom.

Terug na die Buyse. Jan het hom as proefleser by Afrikaanse Pers aangesluit, waar hy later gevolg is deur André, ook in dieselfde afdeling. Jan het later ‘n hoë pos aanvaar by Unisa waar hy tot afdelingshoof gevorder het wat met sy span onder meer doktorale studente se skripsies geproeflees het. Hy het egter nog steeds sewe dae per week saans by Perskor onder afdelingshoof Abdol van der Merwe as vryskut geproeflees. Geen wonder sy lewensvlam het voortydig uitgebrand nie! André het ‘n pos as joernalis by die Pietersburgse dorpskoerant gekry en later redakteur van dié koerant geword.

Laastens het Braam by Perskor se administrasie-afdeling aangesluit voordat hy na ‘n lang loopbaan weens siekte die tuig moes neerlê.

Nog ‘n interessantheid was toe ouboet Tom al die ander Buyse opgekommandeer het tot ‘n massa-bedanking. Dit was omdat middelboet André hom op ‘n Saterdag niksvermoedend in die omstrede en legedariese mnr. Marius Jooste, eens besturende direkteur van Perskor, vasgeloop het toe hy van etenstyd af teruggekeer het. Jooste het sy handlanger, Koos Buitendag, opdrag gegee om André in die pad te steek, want Jooste was van mening dat André saam met ander kollegas die nabygeleë Sans Souci-watergat se likiede versnaperings van die alkoholsoort gaan beproef het. Tom het gelukkig dié taai toffie ontrafel en dit was nie nodig vir die Buyskorps om Perskor uit solidariteit met ‘n non-drinkende broer met ‘n gmfff! te verlaat nie.


Hekpyne in Empireweg

TOM BUYS skryf in Hanekraai van Februarie 1971:
Hier is ‘n hek.
Dit lyk soos die ingang tot ‘n tronk of ‘n goedbewaakte inrigting.
Mense stroom soms smiddae met meer geesdrif daaruit as wat hulle binnegaan.
Elkeen het natuurlik sy eie rede. Hoofsaak is natuurlik dat daar agter daardie hek gewerk moet word.

Die hek, hoe nederig ookal van voorkoms, behoort aan die APB.
Die trappe voor die hek ook. Nuwe trappe.
Sien. (Dis nou Jan Heeksemastyl)
Van sement.
Sien.
Was nie eers so nie.
Sien.
Was eers sulke lelikes. En gevaarlik.
Sien.
Hoë trappe.
Sien.
‘n Mens moes been rek om op te kom.
Sien.
Eendag kom ek en kollega Piet Ayres uit die soutmyn. Dis nou Die Vaderland se subkantoor.
Sien.
En ons klim met die trap af.
Sien.
Die ou, hoës waar ‘n mens moes been rek.
Sien.
Ek ek val.
Sien.
Dit was ‘n ramp.
Sien.
My linkerknie het uitgegly.
Sien.
Baie seer, en baie treurig.
Sien.

Al twee operasies op die ou rugbyknie gehad.
Sien.
Toe’s ek verbitter.
Sien.
(Voor ek vergeet. Kollega Piet se naam is vroeër genoem sodat eenrigtingkende medewerkers nie moet dink ek het gebars en toe geval nie. Kollega Piet kan daarvoor instaan.)
Sien.
Gaan kla toe by mnr. Otto Schwellnus.
Sien.
Hy’s toe boos.
Sien.
Nie omdat ek gekla het nie.
Sien.
Omdat daar voorheen al slagoffers was.
Sien. (Lekker woord, glo goed vir atmosfeer.)
En toe word die nuwe trap gebou.
Sien.
Ek sit met ‘n knie wat nou ‘n derde operasie gaan verg.
Sien

Maar miskien sal die trappe die Tom Buys-trappe genoem word.
Sien.


 

%d bloggers like this: